Mama die stoele het nie voete nie!
Maar ek hoor nie wat jy sê
My gedagtes is tussen blaaie van vrae
Vandag neem ons wéér swart en wit fotos
Jou breë glimlag word die keer ge-crop
Fokus is net op jou skelet en organe
Mama hoekom het die stoele nie voete nie?
Al wat ek sien is die helder lig wat bo ons kop flikker
Amper soos die stukkende straatlig wat saans flikker wanneer jy fiets ry
Tandlagskater oomblikke is al wat ek probeer onthou maar
Knersende tande en onophoudelike trane van kleine lyfies in die gange oorheers elke gedagte
Mama hoe bly die stoele regop sonder voete?
Hoe lank gaan ons wag tot hulle jou naam roep
Met elke wag, elke naald, elke toets
Word jy net sterker
Jy verstaar jouself aan die kleurvolle plakkate in verskillende tale
Ek... ek staar net en wonder in swart en wit
Uiteindelik roep hulle jou naam
Breë bors, erg trots, durf jy die onbekende aan
Trane en bloed word konstant gemeng maar jou besonderse glimlag
Vorm sy eie kernkrag wat enige anatomie kan laat gloei
Nou wag ons net vir die ontwikkeling van die einste swart en wit fotos
Mama! Ek weet hoekom het hierdie stoele nie voete nie..
Jesus hou hulle vas!
Nes Jesus ôns veilig, sonder twyfel, styf vashou
My liefste kind
Hoe sal ek ooit, sonder twyfel,
Kan oorleef sonder jou?...
Comments